Hemelvaartdag behoort as ‘n Christelike Feesdag soos ‘n Sabbat gevier te word

Lees: Lev. 23 en Deut. 16

In ons as Beweging se strewe om ons waardes te vestig op die Woord van God behoort ons die Woord van God as enigste Kanon, maatstaf, vir ons persoonlike lewens, ons beplanning van aksies en optrede van poste en die beweging aan te lê. Daarom behoort ons ook ‘n duidelike standpunt in te neem oor wanneer en hoe ons ons Christelike feesdae vier.

Die vroeg Christelike kerk het op voetspoor van die Ou-Testamentiese redes vir feesdae en Sabbatte die feeste en Sabbatte van die kerk bepaal en ingerig.
In die twee tekste waarna hierbo verwys is, is daar riglyne aan Israel gegee oor die feesdae wat die volk moes vier nadat hulle uit die slawerny bevry is en ‘n nuwe lewe onder die koningskap van die Here kon leef.

Hierdie feesdae word soos volg in Deut. 16:16 opgesom:

Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie;

Daar was dus drie feesdae wat die groot gebeurtenisse in die lewens van die volk herdenk het en wat as feeste gevier is.

Die Pasga – wat gevier is om die verlossing uit Egipte en die spaar van die eerstelinge te herdenk.

Die Fees van die weke – wat gevier is om hulle te laat onthou dat hulle slawe in Egipte was.

Die huttefees – wat gevier is om hulle te laat onthou van die woestyn reis waar hulle in hutte moes bly en die Here hulle gevoed het.

Wat ons uit hierdie gedeelte ook duidelik agterkom, is dat hierdie feesdae as Sabbatte beskou is en geen beroepswerk gedoen mog word nie. In die Israelitiese kalender is daar van die Pasga af sewe dae getel tot by die volgende Sabbat en het die Wet bepaal dat elke sewende dag as Sabbat ingerig moes word tot op die tyd van die fees van die weke, wat weer as Sabbat ingerig was en waarna weer elke sewende dag ‘n Sabbat was tot by die huttefees, wat ook as Sabbat ingerig was en waarna elke sewende dag ‘n Sabbat was.
Paasfees word steeds op die selfde manier bepaal as wat in die Ou Testament bepaal is. Die Israelitiese jaar het in die lente begin. Die eerste dag van die jaar is bepaal deur die eerste volmaan in die lente in Israel, die Pasga sou dus veertien dae later gevier word, daarom verskil ons datum vir Paasfees ook elke jaar. Daarvolgens is die tye vir die res van die feeste ook bepaal.

Teen die tyd dat Christus gebore is, het hierdie feeste ‘n vaste patroon aangeneem. Jesus is op die dag voor die Joodse Paasfees gekruisig omdat hulle Hom nie op die Sabbat mog kruisig nie. Toe die vroeg-Christelike kerk die feesdae en Sabbatte vir die kerk bepaal het, was dit op grond van die groot feesdae in die Christelike kalender.

Pasga – Goeie Vrydag – wanneer die Kerk dink aan die eniggebore Seun van God wat gesterf het om ons te red.

Opstanding Sondag – op die 3e dag ná die kruisiging, waar die oorwinning oor die dood gevier is.

Hemelvaartdag – die troonbestyging van Christus

Pinkstersondag – die uitstorting van die Heilige Gees.

Goeie Vrydag is dus ‘n heilige vierdag wat as Sabbat gevier behoort te word. Omdat Christus op die derde dag opgestaan het uit die dood, is ook die eerste dag van die Romeinse kalender waarop dit gebeur het as Sabbat gevier. Daarvandaan is telkens sewe dae getel tot by die Sondag voor die hemelvaart van Jesus Christus. Die hemelvaart is deur Christene gevier as troonbestyging van Christus, veertig dae ná die opstanding. Christus se hemelvaart bevestig in werklikheid ‘n paar feite: dat Hy van die Vader gestuur is, dat Hy inderdaad die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid is, dat Hy die dood oorwin het en dat Hy terugkeer na vanwaar Hy gekom het omdat sy taak volbring was. Sy totale taak as Saligmaker word dus bevestig en voltooi deur sy hemelvaart. Daarom is dit ‘n uiters belangrike dag vir ons as Christene en nie minder belangrik as enige ander feesdag nie.
Die volgende Sondag was die fees van die Pinkster, wat vyftig beteken, omdat dit plaasgevind het vyftig dae ná die opstanding. Dit is dus ook as Sabbat ingerig. Daarvandaan is dan weer telkens sewe dae getel tot by die volgende Sabbat. Omdat pinkster ook op die eerste dag van die Romeinse kalender plaasgevind het is, die Sabbatte vir die res van die jaar ook op die eerste dag van die week, Sondag, gevier.

Ons kan dus aflei dat die groot feesdae en elke sewende dag daarna as Sabbat gevier behoort te word. Daarom behoort ons Goeie Vrydag, Opstanding Sondag, Hemelvaartdag en Pinkstersondag as Christene se groot feesdae soos Sabbatte te vier en geen beroepswerk daarop te doen nie. Dit is ook die rede waarom ons Sondae soos Sabbatte inrig. Ons vier ook weekliks die opstanding van Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees op ons Sabbat, wat bepaal word deur sewe dae aan te tel vanaf Pinkstersondag.

Op grond van hierdie vereenvoudigde verduideliking wil ons graag al ons Volksgenote oproep om Hemelvaartdag soos ‘n Sabbat in te rig, geen beroepswerk te doen nie. Ook ons sakemanne word versoek om hulle besighede te sluit en hul dienskneg en diensmaagd te laat rus en hulle aan te moedig om deel te neem aan die fees van Christus se troonbestyging. Ons moedig ons volksgenote aan om die eredienste by te woon. Ons behoort ook nie ‘n kompromie met die wêreld aan te gaan en eers Donderdagaand ‘n diens by te woon sodat die mense wat moet werk dit ook kan bywoon nie. Ons behoort ander volksgenote aan te moedig om eerder aan te dring op godsdienstige verlof waartoe hulle geregtig is, of onbetaalde verlof in te sit sodat ons ook hierin ‘n standpunt teen die wêreld kan inneem. Indien daar in u dorp nie ‘n oggenddiens is nie versoek ons die kerke om te reël dat daar ‘n diens gehou word.

Kapelaanskorps
Verkennersbeweging van Suid-Afrika