Gemeenskap trek Boschkop bende vas

BRON : www.dievryburger.co.za

Verskeie Verkenners was deel van die aksie.

Die veiligheidsgemeenskap van die Kleinfontein/Boschkop gebied se harde werk het gisteraand goeie vrugte opgelewer nadat die gemeenskap ‘n gewapende bende vasgetrek het.

Die afgelope ruk het ‘n gewapende bende die gebied geteister met verskeie aanvalle en volksmoorde.

Die bende is vasgetrek nadat ‘n oplettende gemeenskapslid ‘n verdagte bakkie opgemerk het in die gebied. Die verdagtes het laat spaander met die bakkie en ‘n hoë spoed agtervolging het gevolg. Die gemeenskap het met hul motors ‘n padblokkade opgerig en die bakkie tot stilstand gedwing. Van die 5 verdagtes in die bakkie het twee gevlug. Saam met die 3 wat die gemeenskap gearresteer het, is daar ‘n onwettige handwapen gekry. Nadat die polisie op die toneel opgedaag het, het die gemeenskap ‘n stuk veld gefynkam en op nog ‘n onwettige 9mm pistool afgekom wat die bende uit die bakkie gegooi het.

Die SAPD hoop om die verdagtes en onwettige wapens te verbind met die vlaag aanvalle van die afgelope ruk in die gebied.

Mnr Ben Geldenhuys, ‘n lid van die Boere-Afrikanervolksraad, was ook op die toneel en het gehelp met die operasie.

“Hierdie is weereens ‘n bewys dat gemeenskappe en spesifiek ons volk, ons eie toekoms moet skep en verseker” aldus mnr. Geldenhuys.

Hy het verder opgemerk dat die enigste volhoubare langtermyn oplossing vir ons volk, is selfbeskikking.

Selfs die polisie se bevelvoerder op die toneel het opgemerk dat met so ‘n gemeenskap die terroriste maar moet ligloop.