Jacaranda skuldig bevind aan laster

Die Uitsaaiklagtekommissie het vandag, die 28ste Maart 2012, uitspraak gelewer op klagtes van haatspraak en laster wat die BCVO en Mnr Ben Geldenhuys, President van die Verkennersbeweging namens die Verkennersbeweging ingedien het by die Uitsaai Klagte Kommissie teen Mnr Rian van Heerden en Jacaranda 94,2.

Die klagtes het gevolg op lasterlike opmerkings wat Mnr Rian van Heerden in sy oggendprogram op Jacaranda gemaak het teen die CVO skole op die 4de Januarie 2012.

Jacaranda 94,2 as werkgewer van Mnr Rian van Heerden, is skuldig bevind aan laster en is deur die Uitsaaiklagtekommissie beveel om die volgende verklaring in die eerste drie minute van hul 07:00 nuusbulletin en ten minste een ander nuusbulletin voor of op 31 Maart 2012 uit te saai:

“Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika het bevind dat Jacaranda 94.2 die Uitsaaikode verbreek het toe dit op 4 Januarie 2012 die standaard van die Matriek-eksamen in die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys skole afgekraak het. Die eksamen, wat afgelê is met `n slaagsyfer van 95%, is amptelik goedgekeur en het voldoen aan die hoogste standaarde. Dit was dus ongeregverdig om die draak met hulle matriekstandaarde te steek. Jacaranda bied sy opregte verskoning vir hierdie ongegronde belediging van die matrikulante aan.”

Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika het die hoop uit gespreek dat hierdie uitspraak van die Uitsaaiklagtekommissie sal dien as waarskuwing vir diegene wat onder die indruk verkeer dat aangesien dit mode geword het, dit ook aanvaarbaar is om lasterlike uitlatings teenoor Christen Afrikaners te maak. Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika sal ook nie skroom om ander middele tot hul beskikking aan te wend om kwaadwilliges tot orde te roep nie.

Die uwe,


Ben Geldenhuys
President