Pretoria en name

Die Verkennersbeweging het met ontsteltenis kennis geneem dat die uitvoerende burgemeester van die Tshwane Metroraad aangekondig het dat ‘n skikking met opposisiepartye bereik is oor die naam van Pretoria.

In terme van die skikking sou die naam Pretoria behoue bly, in ruil daarvoor dat 27 straatname wel verander gaan word. Dit kom dus daarop neer dat die hart van Pretoria uit hom geruk gaan word. Die stad van Pretorius se siel gaan verander word met vreemde straatname wat niks met die geskiedenis van Pretoria te doen het nie.

Intussen sal die naam Tshwane steeds voortleef in die metroraad se naam.

Hierdie skikking is gevolglik niks om op trots te wees nie, en elke politieke party of enige organisasie uit die burgerlike samelewing wat daaraan meegedoen het of dit selfs ondersteun, maak hulle skuldig aan die verraad van die geskiedenis, en het inderwaarheid gestruikel voor die slinksheid van die ANC.

Die Verkennersbeweging het tydens die vorige rondte van openbare konsultasie oor die straatname sy sterkste teenkanting kenbaar gemaak. Die Verkenenrs het ook al simbolies die naam van Nelson Mandelarylaan verander, en die persone wat daarvoor gearresteer was, is uiteindelik vrygelaat sonder dat enige klagte teen hulle geformuleer is.

Gevolglik sal die Verkenners sy verset teen straatnaamsveranderings in Pretoria voortsit, en sy veldtog selfs verskerp. Die saak, en moontlike optrede, sal eersvolgende Saterdag hoog op die sakelys wees en in diepte bespreek word op die Beweging se tweejaarlikse nasionale kongres naby Pretoria.


Ben Geldenhuys
President
Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika