KOGESA

Die Verkenners ondersteun die saak teen FW de Klerk soos gedryf deur KOGESA.

Vir meer inligting :  www.kogesa.co.za

KOGESA: AGTERGROND, ONTSTAAN EN DOELWIT

 20 JAAR LATER – WAAR STAAN ONS?

Die ANC is teen 2014 reeds twee dekades lank aan bewind in Suid-Afrika. Die sogenaamde “Nuwe Suid-Afrika” van 1994 is nie meer nuut nie; hy is al 20 jaar oud. En nog nooit sedert volksplanting (meer as drie en ‘n half eeue gelede) het 20 jaar verbygegaan waartydens ons leefwêreld so radikaal verander is nie. Ons was 20 jaar gelede ‘n trotse volk wat onsself regeer het en veel regverdiger teenoor nie-Blankes was as ander Blanke volke, deur wie ons hoog-skynheilig as “rassiste” uitgekryt was. Vandag is ons gereduseer tot ‘n groepie gemarginaliseerde sogenaamde “voorheen bevoordeeldes”, wat moet dankbaar wees dat ons hoegenaamd nog in ons geboorteland geduld word – dit wil sê, die van ons wat nog nie reeds moord-statistiek is nie.

Die Regering, die buiteland, asook die hoofstroom media en groot sake-ondernemings in die land dring almal aan (elk vir hulle eie redes en in diens van hulle eie agenda’s) dat hierdie radikale veranderings tot almal se beswil plaasgevind het – ook tot ons eie volk se beswil. Ons word dag vir dag aan die breinspoeling onderwerp dat hierdie veranderings die enigste en die beste was wat met Suid-Afrika kon gebeur – ook die beste wat met ons eie volk kon gebeur. En dat hierdie veranderings in elk geval moontlik gemaak was “deur die politieke keuses wat ons volk self uitgeoefen het tussen 1989 en 1994.”

Dat die chaos, wanorde, die skokkende martelmoorde, verkragtings, kapings, inbrake, diefstalle en roof, die konstante diskriminasie teen ons, die ineenstorting van dienslewering, die korrupsie, werkloosheid en verarming en kulturele berowing waaraan ons volk blootgestel is die afgelope 20 jaar alles behalwe “die beste” is wat met ons kon gebeur – dit besef almal. Selfs meeste van diegene wat ter wille van een of ander persoonlike voordeel in hierdie jammerlike valse koor saamsing, weet goed dat dit leuens is. Leuens bly immers leuens – al word dit miljoene kere herhaal – en diegene wat dit verkondig, weet dit self die beste van almal; al erken hulle dit nie.

Maar dat ons volk weens “sy eie politieke keuses” tussen 1989 en 1994 self die Swart bewindsoorname oor ons bewerkstellig het – dit word wel geredelik deur baie mense geglo. Ons eie mense het tog “Ja” gestem vir die Nasionale Party van FW de Klerk in die Referendum…

 

WAT HET WERKLIK GEBEUR?

Die staatkundige gebeure tussen 1989 en 1994 was egter heeltemal te omvangryk en te kompleks, dat ons huidige posisie eenvoudig as ‘n regmatige gevolg van die 1992-Referendum verklaar kan word. Behalwe dat meeste mense nie eens meer weet wat die Referendum-vraag was nie, verg dit intensiewe navorsing om te bepaal wat voor-; tydens- en na die Referendum gebeur het op die volle Staatsregtelike spektrum; sodat aan die hand daarvan verklaar kan word of ons werklik op regmatige wyse in ons huidige posisie gekom het of nie.

 

WAT NOU GEMAAK?

Vroeg in 2014 het ‘n paar volksgenote in Pretoria byeengekom wat besluit het dat hierdie saak van soveel belang is, dat dit behoorlik nagevors moet word sodat vasgestel kan word of die huidige situasie regstegnies korrek teweeg gebring is of nie. En, indien nodig, dat ‘n proses (gegrond op die destyds-geldige regsbeginsels) gevolg moet word waartydens die destydse leiers wat meegewerk het tot beplanning van die huidige situasie, geleentheid gebied moet word om hulle saak te stel, indien daar voorleggings van regsvergrype teenoor diesulkes ontvang sou word.

Dit was die geboorte van “KOGESA” – en die eerste Voorlegging (wat ‘n stelling van regstegniese Hoogverraad insluit), handel oor F.W. de Klerk, Staatspresident van Suid-Afrika vanaf 1989 tot 1994. Hierdie eerste Voorlegging sal op 31 Mei 2014 in die Willie Marais Sentrum, Neethlingstraat 199, Eloffsdal, Pretoria deur ‘n prokureur (Paul Kruger) as navorser van KOGESA geargumenteer word voor ‘n paneel van advokate. Op 24 April 2014 is die Voorlegging by die kantore van die FW de Klerk Stigting afgelewer ter kennisname deur Mnr. De Klerk; en om hom die geleentheid te bied om sy saak tydens argumentering van die Voorlegging te stel. Die verrigtinge vind in die openbaar plaas en volksgenote word uitgenooi om dit by te woon.

 

WAT IS KOGESA SE STATUS EN WAT PROBEER ONS BEREIK?

KOGESA is uiteraard nie ‘n liggaam wat deur die huidige Suid-Afrikaanse Regering tot stand gebring is nie; en beskik dus nie oor staatsgesag nie. Maar die volk, selfs in sy huidige staatkundig-ontmande toestand, bly steeds ‘n “regsubjek” – dit wil sê, die volk bly ‘n draer van regte (ook en veral die reg op selfbeskikking); die volk bly ‘n regs-entiteit wat hom kan beywer vir die herwinning van selfbeskikking; en die volk is (in voormelde sin, onder andere) ook inderdaad genoodsaak om inligting te ontvang en te beoordeel rakende die vraag hoe ons in die eerste plek in die huidige posisie van selfbeskikking-verlies beland het – aangesien dit deel kan uitmaak van ons argument vir “restitusie” oftewel ‘n regstelling van ons staatkundige toestand.

Dit is in laasgenoemde sin dat KOGESA opgerig is as ‘n Volkskommissie van ondersoek – en die Voorleggings voor hom, insluitende submissies van Hoogverraad gepleeg in die relevante tydperk, word nie deur KOGESA  in ‘n hoedanigheid van een of ander “hof” aangehoor en beoordeel nie, maar as ‘n Ondersoek-kommissie na die tersaaklike omstandighede en gebeure in die verlede.

 

HOEKOM?

Omdat ons volk ‘n reg daarop het om te weet wat werklik gebeur het in die aanloop tot ons huidige benarde omstandighede en hoe ons daarin beland het.

Omdat ons volk moet weet of ons self skuld daaraan het – in regstegniese sin – of nie.

Omdat daardie kennis aangewend behoort te word, indien enigsins moontlik, in die proses om ons vryheid te herwin.

Omdat ons moet leer uit ons verlede en, wanneer ons vryheid herwin is, moet daardie lesse ingeskerp wees sodat dit nooit weer herhaal word nie en dieselfde rampspoed ons nie weer eendag tref nie.

 

UITNODIGING

KOGESA is ‘n Kommissie uit die volk, vir die volk. Talle volksorganisasies steun die inisiatief en u is welkom om dit as indiwidu ook te steun en gemelde steun te bevestig by die skakel na die “Indiwiduele Ondersteunersgroep (“IOG”) elders op hierdie webwerf.

Verdermeer: Indien u oor enige inligting beskik wat u glo van waarde sal wees vir die werk wat KOGESA doen, word u uitgenooi om sodanige inligting te deel met die Sameroepers en/of Navorser; die kontak-besonderhede is 079 353 1997 of 082 267 0364.