Antwoord uit Den Haag

12 Junie 2013

In Februarie 2012 het die Verkennersbeweging van Suid-Afrika ‘n klag van volksmoord teen die ANC regering en sy ministers ingedien by die Internasionale Kriminele hof (ICC) in den Haag. Hierdie klag is ingedien in terme van die Roomse statuut. Verskeie organisasies het hulle in tussen gevoeg as partye tot die saak, waaronder die Afrikanerfront (en al sy lid organisasies), die HNP en die Boere-Afrikanervolksraad.

Op die 7de Junie 2013 het die Verkennersbeweging ‘n skrywe van die ICC ontvang waarin die ICC die Beweging in kennis gestel het dat volgens die ondersoekbeampte, die klagte nie binne die ICC se jurisdiksie val nie en dat die ondersoekbeampte van mening is dat daar nie ‘n volksmoord gepleeg word nie. Gevolglik het die ondersoekbeampte besluit om nie tans met die ondersoek voort te gaan nie. Die deur is egter oop gelaat dat die ondersoek sal voortgaan indien nuwe inligting en/of feite aan die ICC gestuur word.

Wat belangrik is van die skrywe, is ook dit wat nie geskryf is nie. Die ANC regering is byvoorbeeld nie kwytgeskeld van skuld in hierdie skrywe nie. Ook is dit belangrik dat die deur nie toegemaak is nie. Volgens die regsmening van die Verkennersbeweging se regspan, voldoen die klagte wel aan die die vereistes soos gestel in artikel 6 tot 8 van die Roomse statuut. Gevolglik is daar opdrag aan die regspan gegee om sodanige antwoord op die skrywe van die ICC te rig en ook om verdere bewyse dat daar wel tans volksmoord plaasvind, aan te heg.

Ben Geldenhuys
President Verkennersbeweging van Suid-Afrika