Nasionale kongres 2014


28 April 2014

Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika hou elke twee jaar ‘n nasionale kongres en op Saterdag 26 April 2014, is die Beweging se nasionale kongres te Paardekraal gehou. Tydens hierdie kongres word daar onder andere ook ‘n Nasionaleraad verkies. Alwyn de Klerk (voorheen sekretaris van die Beweging) is verkies as die President, en Sid Mann as die Adjunk-president.

Toekennings is ook gemaak aan lede wat uitsonderlike diens verrig het in die volksakker. Die Beweging se vorige President, Mnr Ben Geldenhuys het die toekenning ontvang as die Bobaas-Verkenner. Sid Mann het die Steve Strydom-trofee ontvang vir uitsonderlike werk deur ‘n lid wat nie op die nasionale raad is nie. Die Presidentstrofee vir die beste Pos, het gegaan aan die Utrecht Verkennerspos. Hannes Scholtz, Clem de Klerk en Chris Hoogendyk het ook elkeen ‘n goue medalje ontvang vir hul uitsonderlike bydraes.

Die Nasionale kongres het weereens gewys dat daar uitsonderlike diepte in leierskap in die Beweging is en dat die Verkennesbeweging van Suid Afrika nog ‘n groot rol op die Volksakker gaan speel. Van die kongres besluite wat geneem is, is die herbevestiging van die Beweging se toegewyde diens op Majuba, Paardekraal en die Verkenners se eie plaas, Die Pos. Die kongres het ook besluit om ‘n geheelstrategie te ontwikkel met betrekking tot weerstand teen die onreg wat teen Mnr Clive derby Lewis gepleeg word.

Die tema van die kongres, was die 100 jarige herdenking van die rebellie van 1914 en is daar tydens die kongres ook aangekondig dat daar ‘n toer onderneem word op die epiese roete wat Generaal Kemp gevolg het. Dit word beplan vir November 2014. Verder is daar in die verband ook aangekondig dat daar ‘n Rebelliefees in Oktober 2014 gehou sal word op die Volksdorp Kleinfontein.

Die dreigende Zimbabwe tipe grondroof aksies wat deur verskeie kommunisties gesinde politieke partye gepropageer word, is ook bespreek en is daar besluit dat ‘n strategie ontwikkel sal word waar lede mekaar sal bystaan in die verband.

Die volgende nasionale kongres word in 2016 gehou.

Jan Beyers
Sekretaris: Verkenners beweging van Suid-Afrika