Klag by Menseregtekommissie deur Verkenners


16 April 2014

‘n Klag is by die Menseregtekommissie deur die Verkennersbeweging van Suid-Afrika ingedien. Die klag behels die skending van Mnr. Clive Derby-Lewis se basiese regte as gevangene van die ANC-regime.
Mnr. Clive Derby-Lewis word, ten spyte van aanbevelings van die paroolraad tot vrylating, as politieke speelbal deur die ANC-regime aangehou. Die aanhouding en die wyse waarop dit geskied is onmenslik en vernederend van aard en het die oogmerk om sy menswaardigheid aan te tas. Verder is Mnr. Derby-Lewis terminaal siek 3met kanker en maak sy voortgesette aanhouding, in ag genome die ooglopende kwaadwilligheid van die owerheid, geensins sin nie.

Mnr. Derby-Lewis is verder ook onlangs in die tronk geweldadig aangeval en met die doel om hom om die lewe te bring. Vermelde aanval volg op ‘n vorige aanval in Februarie. Dit is duidelik dat die tronkowerheid in opsetlike versuim geen redelike stappe ter beveiliging van Mnr. Derby-Lewis geneem het nie. Na die mees onlangse aanval was Mnr. Derby-Lewis verder sonder enige behoorlike sorg behandel en was dit eers ‘n dag later deur ‘n privaat dokter bevind dat sy een long stukkend gesteek was en hy verder besig was om in sy eie bloed te verdrink.

Dit spreek tot groot kommer dat daar ook ‘n hofbevel deur Mnr. Derby-Lewis se prokureur verkry moes word ten einde Korrektiewe Dienste te verplig om toe te stem dat Mnr. Derby-Lewis deur ‘n dokter behandel mag word. Die ANC-regime se versuim om aan Mnr. Derby-Lewis behoorlike noodbehandeling te besorg asook om basiese mediese versorging en veiligheid daar te stel is ‘n growwe skending van die ANC-regime se eie menseregte handves.

Die Verkenners bring die klag onder die reg soos dit tans daarvan uitsien. Ons is van mening dat die ingesteldheid van die owerheid ten aansien van Mnr. Derby-Lewis bloot kwaadwillig is en dat alle redelike vlakke van gelykheid voor die reg reeds lankal oorskry is. Die voortgesette aanhouding onder uiters haglike en gevaarlike omstandighede sou onder beskaafde norme nooit aanvaar word nie en is weereens ‘n vertrapping van die ANC se menseregte deur die ANC-regime self.

Die Menseregtekommissie is derhalwe versoek om die onmenslike en barbaarse omstandighede waaronder Mnr. Derby-Lewis aangehou word, asook die proses tot voortgesette aanhouding, indringend te ondersoek ten einde sodanige stappe te neem wat regverdigheid kan en sal vestig. Die hoop word uitgespreek dat die Menseregtekommissie nie in die gees van subjektiewe emosie van haat sal verval nie maar inderdaad objektief en gegewe die feite tot die besef sal kom dat die ANC-regime se optrede ‘n ernstige vertrapping van Mnr. Derby-Lewis se basiese regte daarstel.

Die Verkennersbeweging het sy regsverteenwoorigers reeds opdrag gegee om, indien nodig, die nodige stappe in internasionale tribunale ter beveiliging van Mnr. Derby-Lewis te onderneem.

Die Verkenners sal deurlopend alle moontlike stappe neem om die onmenslike en barbaarse gedrag van die ANC-regime teen ons volk se mense, insluitend Mnr. Derby-Lewis, tot ‘n einde te bring.

Ben Geldenhuys
President
Verkennersbeweging van SA