Vrylating van Nelson Mandela – 20 jaar later

11 Februarie 2010

Sommer op die voormiddag van die dag waarop die vrylating van Nelson Mandela twintig jaar gelede in herinnering geroep word, basuin die nuus dit uit: ‘n bejaarde egpaar is vermoor in hulle huis in Mayville gevind.

Enkele dae gelede dien die Staat dokumentasie in om ‘n aansoek dat die nasionale taalwet in werking gestel moet word, te opponeer, en die boodskap is duidelik: Afrikaans as taal staan op sy eie, en die Staat sal niks doen om Afrikaans te bevorder of te beskerm nie.

Die dorp Piet Retief se naam is verander in iets onuitspreekliks en onbekend, terwyl daar steeds getorring word aan Pretoria se naam.

Sal al die lofsangers van Mandela se vrylating 20 jaar gelede nou vir een maal in hulle lewe die moed hê om op te staan, en ruiterlik te erken dat dit is wat hulle graag wou gehad het? Dat weerlose oumense twintig jaar later vasgebind en wreedaardig en lafhartig vermoor word? Dat die Afrikaanse taal twintig jaar later in ‘n oorlewingstryd soos nooit tevore geforseer word? Dat Suid-Afrika onherkenbaar vermink word met vreemde name, waar die laaste prioriteit skynbaar dienslewering is?

Mnr. De Klerk moet nie pleit dat hy niks anders kon doen nie. Hy moet nou reguit sê of hy nou tevrede is, en of hy bereid is om enigiets méér te doen om die onreg teen die Afrikaner te herstel, behalwe om akademiese gesprekke oor die taal aan te bied.

Intussen is dit duidelik dat die Afrikaner twintig jaar na Mandela se vrylating, al hoe meer na homself moet omsien. Hy sal moet sorg dat hy voorbereid is om misdadigers ‘n warm ontvangs te gee, want moorde soos dié in Mayville, kan eenvoudig nie voortgaan nie. As dit dan so is dat Afrikaans “op sy eie is” en die gebruikers daarvan self vir die taal moet sorg, moet ons dit as ‘n taaloorlog sien, en moet Afrikaanssprekendes nou meer as ooit op hulle taalregte staan, en weier om die taal van die voormalige kolonis te praat op enige plek of onder welke omstandighede ook al. En die vertroude plekname moet in die volksmond behoue bly.

Intussen moet alle denkbare en werkbare alternatiewe ondersoek word, om die Afrikaner weer ‘n vrye volk in ‘n vrye vaderland te maak. Meningspeilings in Beeld en Die Burger het reeds oorweldigend bewys dat ‘n volkstaat ‘n al hoe meer aanloklike alternatief word vir die bedeling wat begin het met Mandela se vrylating 20 jaar gelede.

Henk van de Graaf
President
Verkennersbeweging van Suid-Afrika